Sorg dat jou testament wetlik geldig is

akkreditasie

Nasionale Testamenteweek is vanjaar van 12 tot 16 September. Jy kan hierdie week gebruik om jou testament gratis te laat opstel.

Waarom is dit belangrik om ’n testament te hê?

Dit is van kardinale belang om ’n testament te hê, veral in Suid-Afrika, meen Tirosha Govender, prokureur en skrywer in Gauteng.

“As jy nie een het nie en jy sterf, sal alles aan die staat behoort en dit is hulle plig om dit tussen jou erfgename of jou ouers te versprei. As niemand dit opeis nie, behoort dit ongelukkig aan die staat,” sê sy.

Volgens Rino Kaptein, prokureur by Schoeman & Hamman Prokureurs, is dit kommerwekkend dat sommige mense steeds nie die belangrikheid van ’n testament besef nie.

“Ek word daagliks oorval met navrae van familielede waar ’n persoon gesterf het sonder ’n testament. Hulle wil dan weet wat van die oorledene se bates word.

“In die meeste gevalle word daar beweer dat die oorledene op sy sterfbed gesê het dat die huis, byvoorbeeld, aan sy broer of kind bemaak word. Die Wet op Testamente bepaal die geldigheid van testamente. Die meeste mense dink dat ’n beëdigde verklaring waarin jou laaste wense vervat word, geldig is,” sê hy.

Volgens Kaptein bepaal die Wet op Testamente, en meer spesifiek Artikel 2 daarvan, egter dat die testament deur die testateur onderteken moet wees in die teenwoordigheid van twee getuies. Dit is belangrik dat jy ’n testament moet hê wat aan hierdie vereistes voldoen waarin jy bepaal wat van jou bates word na afsterwe.

Waarom Nasionale Testamenteweek benut moet word

Nasionale Testamenteweek is daarom belangrik om bewustheid te skep en om mense op te voed oor hoe om die verdeling van hul bates en besittings te struktureer, sê Govender.

Kaptein stel voor dat Testamenteweek benut moet word. “Gedurende hierdie tydperk word testamente gratis vir die publiek opgestel en ek moedig mense aan om van die geleentheid gebruik te maak. Uit my 20 jaar ondervinding weet ek baie mense dink dat dit nie belangrik is om ’n testament te hê nie of hulle stel dit uit.”

Kan ’n testament sonder ’n prokureur opgestel word?

’n Eenvoudige testament, byvoorbeeld waar daar nie ’n groot hoeveelheid bates is nie, kan sonder die hulp van ’n regsgeleerde opgestel word, sê Kaptein.

“Die probleem kom egter in waar persone ’n testament opstel sonder regsadvies en die testament dan nie aan die vereistes van die wet voldoen nie. In sulke gevalle sal die Meester van die Hooggeregshof die testament verwerp, ongeldig verklaar en die oorledene se boedel word dan volgens die Wet op Intestate Erfreg afgehandel,” sê hy.

In gevalle waar daar ’n groot boedel is (met ander woorde waar daar baie bates en minderjarige kinders is) is dit raadsaam dat die kennis en hulp van ’n prokureur ingeroep word om bystand te bied met die bewoording en tegniese aspekte aan te spreek.

Govender sê ook dat dit raadsaam is om ’n prokureur aan te stel wanneer daar kompleksiteit by die herverdeling van bates is of wanneer ’n trust betrokke is.

Wat gebeur as jy sonder ’n testament sterf?

As jy sterf sonder ’n testament, word jou boedel ingevolge die Wet op Intestate Erfreg afgehandel.

Volgens dié wet is daar ’n sekere prosedure wat gevolg moet word waarna daar sal bepaal word hoe die oorlede se bates tussen sy erfgename verdeel moet word, verduidelik Kaptein.

“As jy egter sterf en jy het ’n testament wat wetlik reg opgestel is, is dit eenvoudig om te bepaal wat met die bates gebeur. As daar nie ’n testament is nie, geld daar ander reëls wat gevolg moet word om jou boedel af te handel.”

Kan ’n testament verval?

Govender beklemtoon dat ’n testament geldig is solank die testateur dit uit vrye wil en met twee getuies onderteken het.

“Daar hoef nie ’n kundige by te wees nie. ’n Testament verval ook nie, tensy jy ’n nuwe een opstel wat geldig en bindend is, en jy afstand doen van alle vorige testamente.”

GEBORG

Nadine Wilkinson Attorneys

’n Testament is jou laaste daad van onbaatsugtigheid aan jou geliefdes. Daarsonder is hulle oorgelewer aan die sloer en frustrasie van ’n boedel wat deur die Intestate Erfreg beredder moet word. Nadine Wilkinson Attorneys is gereed om die breër gemeenskap van die Helderberg by te staan met die opstel van ’n geldige testament tydens Nasionale Testamenteweek.

Knoetze Law Geïnk.

Knoetze Law Geïnk. neem deel aan Testamentweek van 12 tot 16 September en sal jou graag help om ’n basiese testament gratis op te stel. Hulle het ’n praktiese en proaktiewe benadering, en maak die reg eenvoudig, toeganklik en doeltreffend. Jy kan hulle skakel vir die bekwame opstel van ’n gratis basiese testament. Hulle kan ook ’n bestaande testament help hersien en bystand verleen met boedelbeplanning en -bereddering.

Buiten testamente, boedelbeplanning en -bereddering, spesialiseer Knoetze Law Geïnk. in erfreg, eiendomsreg, aktevervaardiging en kommersiële reg. Hulle behartig ook litigasie hiervoor en invelde soos insolvensie en rehabilitasie, aansoeke om kuratele en ander hooggeregshofaansoeke.

Van Zyl Kruger Prokureurs

Van Zyl Kruger Prokureurs is trots om van 12 tot 16 September deel te wees van Nasionale Testamenteweek. ’n Testament is een van daardie noodsaaklikhede wat almal weet hulle moet hê. Dit is nou jou kans om jou testament gratis by VZK Prokureurs te laat opstel.

Skakel gerus 021 180 4566/4550 of stuur e-pos na andri@vzk.co.za.

VisagieVos Inc.

By VisagieVos Inc. vier hulle meer as 37 jaar van uitmuntende regsdienste aan kliënte. Hulle het sedert 1986 ’n tradisie van lojaliteit teenoor hul kliënte en betrokkenheid in die gemeenskap gevestig. Met 14 prokureurs en kandidaatprokureurs asook meer as 55 ondersteuningspersoneellede in die Goodwood-kantoor in die Wes-Kaap, lewer hulle gehaltediens aan kliënte om by te dra tot hul private lewens en die sukses van hul maatskappye. Om na die belange van hul kliënte om te sien, moet hulle as prokureurs doeltreffende en koste-effektiewe dienste lewer. Hulle streef daarna om regsdienste van die hoogste standaard en uitnemendheid te verskaf.

Malan Lourens Viljoen

Die afsterwe van ’n geliefde kan verpletterend en traumaties wees vir diegene wat agterbly, veral as die nodige beplanning nie vooraf deur die oorledene gedoen is nie. ’n Testament is nodig om ingewikkelde kwessies so vinnig en sensitief moontlik aan te spreek. Malan Lourens Viljoen se gespesialiseerde span sal jou hiermee kan help op ’n vriendelike, persoonlike en doeltreffende manier wat al ’n norm by hul firma is.

Gijsbers

Gijsbers reken jy moet die volgende oor jou testament kan sê: “My testament is op datum, dit voldoen aan al die vereistes van die Suid-Afrikaanse Testamentewet, ek het die oorspronklike testament en weet waar dit is, en ek is tevrede met die manier waarop die testament vir my geliefde(s) voorsiening maak.” As jy nie dit van jou testament kan sê nie, tree gerus met die Gjisbers-span in verbinding.